Monday, September 15, 2008

Klaar...


Hallo daar almal...

Ek het heeltyd gewonder wanneer sal ek nou hierdie post skryf... As die opname klaar is? As ons klaar gestel en gepeuter het aan alles daarná? As die mixing en mastering ('n drie-dae-lange proses) gedoen is? As die geskrewe blink cd in my hand vashou vir die eerste keer? Of as ek die posters in Look 'n Listen sien hang? Dis moeilik... Daarom sal ek, om myself al die afwagting en emosionele teistering te spaar, nou voortgaan daarmee...

Ek is nou die trotse pa van 'n splinternuwe album genaamd Musiek vir die agtergrond
Sy is net 14.2857142857% myne, maar dit is genoeg om my danserig te maak. Die res van die blaam/eer behoort, in alfabetiese volgorde, aan:


  • Ali Heyns - Vervaardiger en menger.
  • Dawie de Jager - Sanger, skrywer, kitaarspeler, pianis en professionele koffiemaker.
  • Marie-Louise Pretorius - Sangeres, skrywer, tjellis, pianis en proffesionele Roos-tuusen-die-dorings
  • Morné Bam - Bass, sanger en (professionele) siniese kommentaar leweraar.
  • Salmon de Jager - Sanger, skrywer, bekfluitjiebeer en proffesionele Wii tenniskampioen.
  • Werner Griesel - Sanger, Roker, professionele drinker en ... dromme!

Daar is iets fout as 'n band nie kan sê: "Hierdie is ons beste werk" nie. Dit beteken dalk het hulle die visie verloor en dit is hoekom bands en kunstenaars dit selfs sal sê as hulle dit nie glo nie... In die hoop om tog vir iemand (en hulself) te flous. Ek vra myself altyd "Wat wil jy hê hieruit? Wat moet hierdie musiek waaraan jy skryf en wat jy sing, DOEN?" Die antwoord is eintlik maklik, maar die vraag vergeet mens soms... Ek wil net hê dit moet vir mense laat voel soos hoe ek voel as ek na musiek luister en totaal en al meegesleur word daardeur... Die res kan dit luister en dink "Dis nice" of hulle kan dit afsit en dink "WTF!?". Vir my hart maak dit nie saak nie. Vir my sak moet dit iets beteken, maar dan weer; as ek dit vir geld gedoen het sou dit anders geklink het en ek sou duisende daarvan verkoop het.

As jy hierdie Klopjag album in jou radio sit, ► druk en luister, hoop ek jy verstaan wat ek bedoel.


Cheers. Ek gaan nou tee maak. (danserig)

No comments: